Orkaan Katrina

Orkaan Katrina
Orkaan van die Kategorie 5
Katrina op 28 Augustus 2005
Gevorm op: 23 Augustus 2005
Volledig afgeswak op: 31 Augustus 2005
Windsnelhede: 280 km/h
Windstote tot by 340 km/h
Laagste lugdruk: 902 hPA (mbar)
Totale skade berokken: $81,2 miljard VSA-dollar
Slagoffers: ≥1 836
Gebiede, wat
deur Katrina geraak is::
Bahama-eilande,
Florida,
Kuba, Louisiana (veral
New Orleans), Mississippi,
Alabama
Groot dele van die
oostelike vasteland van
Noord-Amerika

Die tropiese Orkaan Katrina was een van die ergste natuurrampe wat die Verenigde State ooit getref het. Die storm het in Augustus 2005 meer as 1 800 menselewens geëis – die grootste aantal slagoffers sedert die Okeechobee-orkaan van die jaar 1928 – en 'n skade van 81,2 miljard VSA-dollar berokken, die hoogste wat ooit by 'n natuurramp in die VSA aangeteken is. Die VSA-regering moes net soos die plaaslike owerhede kritiek verduur nadat hulle die uitwerkings van die orkaan aanvanklik onderskat het en noodmaatreëls te laat getref is. Ook die reddingsaksies is nie doeltreffend gekoördineer nie. Die federale, staats- en plaaslike owerhede se onvermoë om hierdie natuurramp doeltreffend te hanteer is deur die Amerikaanse Kongres ondersoek, en Michael Brown, die hoof van die Federal Emergency Management Agency FEMA, die ramphanteringsagentskap van die Departement van Binnelandse Veiligheid in Washington, DC, het as gevolg van skerp kritiek oor sy optrede bedank.

Die baan van Katrina

Katrina het tydens die Atlantiese orkaan-seisoen van die jaar 2005 in laat Augustus gevorm en tot die sesde sterkste Atlantiese orkaan en die derde sterkste orkaan, wat die vasteland ooit getref het, ontwikkel. Dit was die elfde storm, wat van 'n naam voorsien is, die vyfde orkaan, die derde sterk orkaan en die tweede orkaan, wat tydens die orkaan-seisoen van 2005 binne die kategorie 5 geval het.

Die orkaan het groot dele van die noordelike en sentrale kusgebiede van die Amerikaanse Golfkus verwoes, waarby die internasionale mediadekking veral op die rampspoedige gevolge gekonsentreer het, wat die storm vir die stad New Orleans in Louisiana en die kusgebiede van die deelstaat Mississippi ingehou het. Weens die grootte van die stormfront is selfs kusgebiede verwoes, wat meer as 160 kilometer (100 myl) van sy sentrum af geleë was.

Katrina het op 23 Augustus 2005 oor die Bahama-eilande gevorm en as 'n matige kategorie 1-orkaan oor die deelstaat Florida beweeg, waar dit tot oorstromings gelei en 'n aantal menselewens geëis het. Dit het daarna oor die Golf van Meksiko aansienlik versterk en sodoende tot een van die ergste orkane in die moderne geskiedenis ontwikkel. Die storm het nog eens verswak, voordat dit as 'n orkaan van die kategorie 3 op 29 Augustus weer die vasteland getref het. Op daardie oggend is die suid-ooste van Louisiana en die grensgebied tussen Louisiana en Mississippi verwoes.

Groot skade is in stede soos Slidell (Louisiana), Mobile (Alabama) en Waveland, Biloxi en Gulfport (Mississippi) berokken. Damwalle, wat die Pontchartrainmeer van die stad New Orleans geskei het, is deur die orkaan gebreek. Vier vyfdes van die stadsgebied van New Orleans en 'n groot deel van die omliggende gebiede is weke lank oorstroom. Groot windskade is ook in die binneland veroorsaak.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search